2013-06-15 23:11

Sam Nzima se beroemde foto by die Hector Pieterson-gedenkteken in Soweto.
Foto’s · Lesersfoto’s · Nuus in Foto’s
Stuur vir ons jou foto’s · Stuur vir ons jou foto’s
Marthinus Beukes
Hector Pieterson leef voort in ’n foto en in beelde, maar ook in die Afrikaanse digkuns kla hy steeds ons kollektiewe gewete aan, sê Marthinus Beukes.
Sam Nzima se foto van Mbuyisa Makhubu wat ’n gewonde Hector Pieterson (toe 13 jaar oud) in sy arms dra, met sy huilende suster, Antoinette, langs hom, het deur die jare baie sterk emosie ontlok.
Pieterson, wat vanjaar 50 jaar oud sou wees, is vir ewig die jong seun in Makhubu se arms. In die gedig “ikoon�, in sy debuutbundel, die ysterkoei moet sweet, verwoord Breyten Breytenbach ’n soortgelyke “bewaring� as ’n wyse van ikonisering. Hier word die “dood� van die gekruisigde Jesus (en die ikoon Marilyn Monroe) as’t ware uitgestel:
dieper agter donker lae van velgeworde olie
plat gesmeer teen ’n houtpaneel
gloei ’n ingelegde wêreld
bewaar in sy bloed soos perskes in hul stroop
en omdat alle volbringing gesuspendeer is
is die aksie puur en rou afgeskil…
dieper agter vir ewig net buite bereik (soos marilyn monroe)
Op byna soortgelyke wyse word Pieterson se dood “gesuspendeer�; in die arms van herinnering bly hy “ewig� jonk. Nzima se foto – en die Pieterson-beeld deur Kobus Hattingh en Jacob Maponyane in die Maponya-winkelsentrum in Soweto – keer inderdaad dat die gebeure van 16 Junie 1976 verweer.
Maar ook in die Afrikaanse digkuns leef Pieterson voort in onder meer gedigte deur Breytenbach, Susan Smith en Louis Esterhuizen. En ook die treffende lied van Amanda Strydom “Hector P�.
Die komplekse gebeure wat tot die atmosfeer van Junie 1976 bygedra het, het een figuur tot ikoon uitgehef: Pieterson. Ironies beteken Hector in Grieks “holding fast� – sy slap liggaam is dus ’n oorgawe aan die dood, maar ook ’n suspendering van sy dúúr in die Suid-Afrikaanse struggle-geskiedenis.
Ook Makhubu is gemerk in hierdie konstruksie van verskrikking. Sy uitgestrekte arms om Pieterson is ’n durende ritueel van menslike deernis. Makhubu, wie se Nguni-naam (Mbuyisa) “terugkerende� of “hersteller� beteken, is sentraal in Pieterson se “ikoonwording�.
Sy handeling eggo iets van Elisabeth Eybers se gedig Pietà waarin sy só oor Jesus se gebroke liggaam op Maria se skoot skryf: “Hy is weer waar hy hoort…â€? en “só sal sy hom ’n leeftyd lank behouâ€?.
In Tom Gouws se gedig hector-pietà word Pieterson dan ook as piëta-figuur vergestalt; ’n gedig, wat soos die ander kunswerke om die gebeure van 16 Junie 1976 probeer om te herstel, te laat voortduur, as’t ware terug te bring:
uit die marmerkolom van my spoegwit taal
probeer ek verleë vir die seun ’n beeld boetseer
willoos hang die hande wat die koeëls wou keer
die knie ongedwonge geknak so sag so onbrutaal
gewillig die lyf tot fetus getroos deur kartetsmetaal
in die lokasie van die omsingelde hart het vrees ingeskeur
daar draal blanko verse op die tong se dooimansdeur
hector se hortende asemhaal is die taal se noodsinjaal
hoe beitel ek ’n beeld se voeë skoon met stylfiguur
hoe worstel ek die oortollige vuilwit geweterots wég
hoe monumentaal is ’n kind met bloed en versfraktuur
die dood weet alle seuns word uithuisig op die duur
elk verrinneweerde gedig is kollektiewe pyn se patentreg
skierlik staan ’n volk totaal ter fusilade in saluutvuur
Op 13 Junie 1976 trek die jeug saam in die einste ruimte in Orlando-Oos waar oudpres. Nelson Mandela, opper-ikoon, as jongeling boks geoefen het om hul verset te verwoord teen onder meer Afrikaans as onderrigmedium. Dié klagskrif sou aan regeringslui oorhandig word. “To hell with Afrikaans� – spoegkreet van die meerderheid inwoners van dié land het ook op plakkate die weerstandskrif geword wat op 16 Junie 1976 die grenslyne tussen mense pynlik verskuif het.
Gouws se gedig, waarin die gewete van verskeie stemme van Afrikaanse digters (soos Eybers, N.P. Van Wyk Louw, Ernst van Heerden, D.J. Opperman en Ingrid Jonker) saampraat in “kollektiewe pyn�, verwoord die dra-las van ’n taal om nie net te onthou nie, maar ook om te rekonstrueer, herinner, versoen, uit te reik, terwyl sy sélf in die beskuldigdebank staan.
Pieterson is inderdaad Afrikaans se noodsinjaal, durend vasgevang in foto, beeld en gedig, veral ook in die kollektiewe geheue van ’n volk wat steeds teen “’n vuilwit gewete� stry.
Beukes is ’n literator en navorsingsgenoot aan die Noordwes-Universiteit se Mafikeng-kampus.
* Die McGregor-gedigtefees vind plaas van 21 tot 23 Junie met ’n vol program en sommer ’n land vol woord- en musiekkunstenaars. Vir meer inligting, besprekings en verblyf gaan na www.temenos.org.za of www.tourismmcgregor.co.za of skakel 023 625 1871 of 023 625 1954.

Click here to Book Accommodation in Cradock, Graaf Reinett, Hofmeyer or surrounds.
Article source: http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Afr-se-noodsinjaal-20130615
